PRESS OFFICE
LISTING
Homenewsabout usContact UsWebsite
News

Skud solank die vere reg vir nog 'n glansryke Pendoring-bekroningsaand

Soos die afgelope 21 jaar, beloof die Pendoring Reklametoekennings se bekroningsaand - op Vrydag, 27 Oktober 2017 - om vanjaar weer 'n reklame-opskop sonder weerga te wees. Nie net gaan die beste bemarkingskommunikasie in Suid-Afrika se inheemse tale bekroon en gevier word nie; vermaak deur van die land se voorste kunstenaars en groepe soos die komediant Pietman die Skot, SA's Got Talent-wenner DJ Arch Jnr, die kletsrym- /hiphop-groep Bittereinder en die SAMA-benoemde kletsrymer Zubz, kitaar-en-viool-duo DECA en The Voice-ster Sofaya, beloof ook om vir 'n onvergeetlike aand te sorg.
Pietman die Skot
Pietman die Skot

Dan is daar ook nog die fynproewer-spys en -drank om die aand verder op te kikker. Die Pendoring-tradisie dat elke tafel by die seremonie ʼn bottel brandewyn kry, word vanjaar voortgesit, danksy Richelieu wat daarvoor pa staan. Keurrooi- en witwyn van Leopard’s Leap en mineraalwater van eVati op elke tafel gaan sorg dat die kele nat bly. En vir elke gas is daar ʼn nuttige drasak wat die komende Kersvakansie handig te pas kan kom.

“Die Pendorings gaan oudergewoonte ʼn spogaffêre wees, maar gaste kan hul regmaak vir ʼn paar verrassings. Pendoring bly die enigste geleentheid waar kollegas en industrie-spelers kan terugsit en hulle verlekker in 100% eg-Suid-Afrikaanse bemarkingstalent en kreatiewe werk,” sê Izelle Venter, voorsitter van die Pendoring-direksie en kanaalhoof van VIA TV.

Waldimar Pelser, Pendoring-direksielid en redakteur van Rapport, voeg by: "Pendoring is nou al 'n paar jaar die tuiste van gatskop-reklame in al Suid-Afrika se inheemse tale. Alle Suid-Afrikaners se oë vonkel as daar met hulle gepraat word in hul huistaal, en dit sluit kommersiële kommunikasie in. Ons hoop erkenning aan die skeppers van inheemse-taalreklame sal die bedryf stimuleer en die toptalent aanmoedig om in hul moedertale aan te hou skep."

Soos die bekroonde werk, is die aand se vermaak ʼn kaleidoskoop van klanke en genres en behoort dit in alle smake te val.

  • Pietman die Skot, oftewel Peter Mitchell, klim in sy Skotse persona asook sy Skotse “rokkie” en neem die gehoor saam met hom op sy reis – vanaf Skotland, deur verskeie lande, tot waar hy hom tans in Suid-Afrika bevind. Hy beeld sy reis uit met ʼn kombinasie van musiek en komiese verhale. Die musiek sluit in sy eie komposisies, bekende en geliefde Skotse liede soos Flower of Scotland en Loch Lomond asook verwerkte liedjies soos Loslappie en Ou Ryperd, gesing uit die mond van ʼn Skot.

  • Op vyf jaar is Oratilwe AJ Hlongwane, beter bekend as DJ Arch Jnr, nie net Suid-Afrika se jongste platejoggie nie; hy is ook opgeteken in die Guinness Book of Records as die wêreld se jongste klubplatejoggie. Sy liefde en aanleg vir musiek het al duidelik geblyk toe hy nog maar net ʼn paar maande oud was. Op die iPad wat pa Glen vir hom vir opvoedkundige doeleindes gekoop het, het hy gou sy slag met die ‘Deejay’- toep gewys wat later bygekom het. Danksy ʼn Instagram-video van hom wat soos ʼn veldbrand na ander sosiale mediaplatforms versprei het, is dié jong platejoggie vandag ʼn sensasie.

    Bittereinder
    Bittereinder

  • “Dit klink soos rap maar dit voel soos Afrikaans,” is hoe die kletsrymgroep, Bittereinder, hul genre op Facebook beskryf. En bekendstelling het die groep beslis nie nodig nie – ook in 2012 en 2013 was hulle geleentheidskunstenaars by die Pendoring Reklametoekennings.

    Sedert Jaco van der Merwe, Peach van Pletzen en Louis Minnaar Bittereinder in 2009 op die been gebring het, het hulle ook by al die belangrikste feeste in Suid-Afrika asook in Nederland opgetree, onder meer saam met Van Coke Kartel en Jack Parow tydens die toer, “Afrikaans Verower Harte”. Hulle is ook gereeld in musiek- en ander programme op TV te sien.

  • Viermalige SAMA-benoemde Zubz The Last Letta – wat ʼn B.Com-graad in Inligtingstelsels en Ekonomie aan Rhodes-Universiteit agter sy naam het – gaan ook sy slag as kletsrymer (saam met Bittereinder) wys. Aandag aan detail in sy lirieke onderskei hom van ander kletsrymers en sy insig in lewenswerklikhede van mense in verskillende lande, gee kleur aan sy storievertel.

  • Met haar flambojante voorkoms, houding en musiekstyl, is Sofaya Nkosi – wat The Voice se beoordelaars verlede jaar gáánde gehad het – besig om haar stempel sterk op Suid-Afrikaanse musiek- en vermaaklikheidsbedryf af te druk. Gebore en getoë in Johannesburg, het sy eers drie jaar lank ʼn kontrak met Sony Music Africa gehad voordat sy haar koers ingeslaan en gehore landwyd betower het. Haar lirieke, wat plaaslik sowel as internasionaal relevant is, bevat ʼn kombinasie van Motown ‘soul funk’, R&B en ʼn Sophiatown-geur, wat dit uniek maak. Sy en haar skeppende vennoot, Thami Dineka, het jare gelede al besluit hulle wil Suid-Afrika se musiekbedryf transformeer... en dit is presies wat dié talentvolle sangeres besig is om te doen.

  • Die musiekgroep, DECA, met Herman Steyn (op die viool) en Douw Steyn (kitaar), wat gaste by hul aankoms in die portaal en tydens ete gaan vermaak, het saam al meer as 26 jaar se ondervinding in die musiekbedryf. Die vars, moderne en sjarmante manier waarop hulle nuwe en ou gunstelinge verwerk en interpreteer, is die sleutelbestanddeel van hulle kitssukses en laat hulle musiek aanklank vind by jonk en oud.

    Elana Afrika-Bredenkamp
    Elana Afrika-Bredenkamp

  • Die galante Bouwer Bosch en die sjarmante Elana Afrika-Bredenkamp is vanjaar die seremoniemeesters.

    Behalwe dat Afrika-Bredenkamp een van die bekendste mediagesigte in Suid-Afrika is, is dié ma-trepreneur net so aktief op sosiale media. Daarbenewens handhaaf sy haar eie lewenstyl- en modeblog, chocolateface.co.za. Sy het ook haar eerste wynreeks in 2014 onder die naam ‘Elana Wine’ bekend gestel én sy kan ʼn barshou gholf speel.

    Gemeenskapsprojekte lê haar eweneens na aan die hart en sluit onder meer in ʼn mentorskapprogram by haar almal mater, Parow Hoërskool. Sy is ook ʼn ambassadeur vir CANSA en die Rookruis-Kinderhospitaal.

    Geseën met vele talente, is Bosch ewe tuis as sanger en akteur. Met sy sielvolle stem, betekenisvolle lirieke en verfrissende humorsin het hy sommer uit die staanspoor baie harte gesteel. Vandag is hy ’n gevestigde naam in die vermaaklikheidsbedryf met verskeie albums, TV- en fliekrolle op sy kerfstok. Hy het ook onlangs TV-aanbieder en regisseur by sy reeds indrukwekkende CV gevoeg en ’n aanlynwinkel vir sy liefdadigheidsorganisasie, Liefde Wen, begin.

    In 2013 het hy sy buiging as akteur gemaak in die romantiese komedie, Klein Karoo, saam met Donnalee Roberts, Hykie Berg, Anel Alexander, Tim Theron en vele meer. In dieselfde jaar was hy ook te sien in die kykNET-reekse, Donkerland, Ligte, Kamera... Liefde (waarvoor hy die temalied gesing het) en die lokettreffer, Pad Na Jou Hart. Talle ander rolprente het sedertdien gevolg.

  • By die gebruiklike afterparty gaan platejoggie DekStir sorg dat die litte los bly. Hy het in 2006 besluit om ʼn professionele platejoggie te word en gou ʼn gunsteling in die dans- en partytjiekringe geword. Met verloop van tyd het hy ook as sanger begin naam maak en onlangs ʼn kontrak met David Gresham Records gesluit waar hy sy enkelsnit, Miracle, bekend gestel het. Sy musiek word deesdae op talle radiostasies landwyd gehoor.

Om seker te maak dat jy nie vanjaar se Pendoring-bekroningsgeleentheid misloop nie, bespreek nóú jou plek by Corrie Wright (az.oc.aidemtnarbiv@eirroc of 011 880 5202). Kaartjies kos R970 per persoon (sluit ’n verwelkomingsdrankie, driegangmaaltyd, wyn, mineraalwater, vermaak en ’n opskop ná die tyd in). Studente ontvang 25%-afslag op kaartjies.

11 Oct 2017 15:11

<<Back