Idees vol vrees en gemengde vrugte

Die revolusionêre Afrikaanse skerpskerts ("stand-up") komediegroep Gemengde Vrugte is op Vrydagaand, 23 November by die Afrikaanse Taalmonument se Tuinteater in die Paarl te sien.

Komedie: Idees vol Vrees en Gemengde Vrugte by die Taalmonument

Voor die vertoning word een van die komediante, Kobus Galloway, se nuwe boek bekend gestel. Kobus is die skrywer en illustreerder van die Idees Vol Vrees (IVV) reeks. Met 'n gevolg van 70 000 Facebook-aanhangers, is hy 'n Afrikaanse strokiesprent superster. 'n Reeks van sy strokiesprente word ook gedurende November in die Taalmonument se tuin uitgestal.

Ander komediante sluit in Jurie Prins, ook bekend vir sy deelname aan kykNET se program Saktyd. Jurie is 'n skrywer en teaterakteur en sal ook die seremoniemeester vir die aand wees. Schalk Bezuidenhout, die wenner van die Graca Comedy Showdown en ook die hoogtepunt van die Nandos Comedy Festival vroeër vanjaar, maak saam met Francois van As, Werner Smit en die nuweling Ronnie Victor, die sesmangroep van Gemengde Vrugte uit.

Vars van hul reeks suksesvolle vertonings by die Aardklop kunstefees in Potchefstroom, is hierdie rebelse komediante reg om die Paarl te laat dreun van skaterlag.

Volgens Prins is Gemengde Vrugte "nie net 'n paar manne met grappies nie, maar 'n smeltkroes van karakters, opinies en style. Hul eerlikheid en onverskrokkein-jou-gesig styl op die verhoog maak dit vir die gehoor nie net maklik om die humor te sien nie, maar laat hulle ook verder dink en wonder: Wat as?"

"Gemengde Vrugte staan aan die voorpunt van 'n nuwe gier - die alternatiewe stem en die teenkultuur van Afrikaanse komedie. Dit is definitief 'n geleentheid wat nie gemis moet word nie.As jy 'n liefhebber is van Afrikaans en komedie, kom ondersteun hul gerus," aldus Prins.

Die boekbekendstelling begin om 18:30, waartydens Prins 'n onderhoud met Galloway sal voer. Die komedievertoning sal om 19:30 volg.
Besoekers is welkom om hul eie piekniekmandjie saam te bring of 'n mandjie by Volksmond Koffiewinkel te bestel teen R170 vir twee persone (tel. 021 863 2800). Ligte verversings en bier en wyn sal te koop wees. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Geen honde of vure word toegelaat nie.
Kaartjies vir die boekbekendstelling en komedievertoning, teen R85, is by die hek beskikbaar, en vooraf by die Taalmuseum in Pastorielaan (Ma. tot Vr. 09:00 tot 16:00) of by die Taalmonument (Ma. tot So. 08:30 tot 19:30). Bespreek by Amira Clayton by kommunikasie@taalmuseum.co.za of tel. 021 863 4809/0543.

Die Tuinteater Piekniekkonsertreeks word ten bate van die Taalmonument se Leesprojek aangebied.
Vir verdere inligting oor geleenthede by die Taalmuseum of Taalmonument, skakel 021 863 0543 of besoek www.taalmonument.co.za of www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.

Medianavrae: Amira Clayton/Isabeau Botha by kommunikasie@taalmuseum.co.za of tel. 021 863 4809/0543/ 076 017 6026.



Date: 23 November 2012
Time: 18:30 - 20:30
Venue: Die Afrikaanse Taalmonument, Paarl
Cost: R85

More info:

Gabbema Doordrift Street,Paarl



 
For more, visit: https://www.bizcommunity.com