PRESS OFFICE
LISTING
Homenewsabout usContact UsWebsite
News

Plaaslik is plesierig as jy op soek is na bemarkingsopbrengs, sê Media24

Adverteerders én agentskappe moet steun op hulle plaaslike kennis om seker te maak hul kry 'n voldoende obrengs op hul bemarkingsbesteding, sê Media24.
Esmare Weideman
Esmare Weideman
Anika Ebrahim
Anika Ebrahim

Luidens dié gediversifiseerde mediagroep vind adverteerders 'n groter opbrengs op hul bemarkingskapitaal wanneer daar met 'n teikenmark in hul moedertaal gepraat word. Dieselfde geld vir die gebruik van kulturele ikone waarmee die teikenmark hom kan vereenselwig. Net so glo Media24 dat die gebruik van moedertaalreklame of van kultureel relevante ikone in advertensies 'n veldtog meer lewenskragtig maak.

Media24 - alombekend as Afrika se grootste mediagroep - het hom vanjaar by die Pendoring-Reklametoekennings aangesluit as 'n Platinumborg. Die maatskappy verteenwoordig sowat 29% van alle koerant- en 50% van alle tydskrif-advertensie-inkomste in Suid-Afrika en sy reeks gedrukte en digitale mediaprodukte strek regoor die vasteland.

"Ons glo die Pendoring-Reklametoekennings bied professionele erkenning aan die kreatiewe reklame wat in Suid-Afrika geskep is en hier gebruik word. Hierdie reklame-toekennings het die maatstaf geword van Afrikaanse en eg Suid-Afrikaanse advertensies en ons is trots om dit te ondersteun," sê Esmaré Weideman, Uitvoerende Hoof van Media24.

"Hier by Media24 skep ons gereeld unieke inhoud vir meer as 100 titels en kanale. Hierdie kanale word op hul beurt die platform vir die kreatiewe werk van bemarkers en adverteerders en gevolglik het ons die voorreg om jaarliks honderde bemarkingsveldtogte te sien en te evalueer," sê Weideman.

Media24 het die grootste aantal Afrikaanse publikasies in Suid-Afrika. Die maatskappy het sy stigting te danke aan die skepping van De Burger in 1915 en aan De Huisgenoot, wat 'n jaar later die lig gesien het. Sedertdien het die maatskappy sy reeks Afrikaanse produkte aansienlik uitgebrei en sluit dit welbekende handelsname in, soos Beeld, Sake24, SARIE, Idees en Lééf - met hart en siel.

Baie van hierdie Afrikaanse en eg Suid-Afrikaanse handelsname het ook al op die internet en op digitale platforms 'n nes geskop, namate lees- en verbruikerspatrone verander het.

"Die reuse-aantal titels wat ons daagliks, weekliks en maandeliks publiseer, gee ons 'n baie goeie oorsig van die bewegings in die mediabedryf," sê Anika Ebrahim, Hoof van Korporatiewe Skakeling by Media24. "Ons is besonder opgewonde oor die feit dat die Pendoring-Reklametoekennings unieke en gedenkwaardige reklame op 'n verskeiden-heid platforms en mediums beoordeel en dat die eg Suid-Afrikaanse kategorieë ook die gebruik van Suid-Afrikaanse kulturele idiome raaksien en bekroon."

Volgens Ebrahim het bemarkers en adverteerders wat kultureel relevante beelde en simbole gebruik 'n beter trefkoers, aangesien die teikenmark groter aanklank daarby vind.

Dié siening word ondersteun deur Weideman, wat wys op die trefkrag van advertensie-veldtogte wat oor 'n verskeidenheid platforms gebruik word. "Die media-omgewing is besig om teen 'n snelle pas te verander, en adverteerders en advertensieagentskappe het 'n groter keuse van platforms. Ten einde te verseker dat 'n bemarkingsveldtog sy teiken haal, is dit belangrik om taal en beelde te gebruik wat direk tot die teikenmark spreek," sê Weideman.

Die Pendoring-Reklametoekennings hou sy gala vanjaar op 24 Oktober 2014 by Vodacom World in Midrand, Gauteng, ná 'n hoogs suksesvolle geleentheid in Kaapstad in 2013. Die beoordeling is so pas afgehandel en die finaliste sal op 5 September 2014 aangekondig word.

Sluit jou gerus aan by die Pendoring Facebook-groep en volg @Pendoring_ op Twitter. Gebruik die hutsteken #Pendoring om saam te gesels. Vir meer inligting oor die toekennings, besoek gerus www.pendoring.co.za.

28 Aug 2014 11:19

<<Back